Ekokritiek en ekopoësie (1)

Ekokritiek en ekopoësie: ‘n Inleiding

Vanaf die vroegste tye is die mens en sy verhouding tot die omringende natuurlike wêreld die onderwerp van vertellinge, verhale, mitologieë en religieuse geskrifte.

Reeds in 1611 beskryf die metafisiese digter John Donne die verhouding tussen die mens en die natuur in sy gedig ”An anatomy of the world”, woorde wat weerklank vind in hedendaagse debatte oor die mens en sy misbruik van die nie-menslike wêreld wat hom omring. Donne voer aan dat ander kreature – waar ons die ganse nie-menslike wêreld kan inlees – aan die genade van die instrumentele gebruik van die mens onderworpe is. Later in dieselfde gedig beskryf hy hoe die wêreld aan stukke is, hoe alle samehang tot niet is, ’n gedagte wat tans wyd resoneer in gesprekke rondom die ekologie. Só skryf Donne:

Thus man, this world’s vice-emperor, in whom
All faculties, all graces are at home;
And if in other creatures they appear,
They’re but man’s ministers, and legates there,
To work on their rebellions, and reduce
Them to civility and to man’s use. (Donne 1971:275)

Lawrence Buell, een van die pioniers van die ekokritiese beweging, wys daarop dat die mense se vroegste verhale dié is oor die aarde se skepping en God en mens se transformerende ingryping daarop, wat ’n aanduiding is van die feit dat omgewingsbewustheid en -kritiek as ontluikende dissipline antieke wortels het (Buell 2005:1-2).

Waar kom die woord ekologie vandaan?

Die term ekologie kan teruggevoer word na die Duitse dierkundige, Ernst Haeckel wat die woord Ökologie vir die eerste keer in 1873, ongeveer ’n eeu voor die geboorte van die nuwe dissipline, ekokritiek, gebruik het (Arigo s.j.:Voorwoord). Die oorsprong van die woord kan teruggevoer word na die Griekse woord, oikos, wat na huis of blyplek verwys, terwyl die tweede deel van die woord verwys na logos, wat woord beteken. Ekologie beteken dus letterlik woorde oor tuistes, maar ook woordtuiste, soos deur Meintjes (1995:78) uitgewys.

Die sistemiese aard van taal en van letterkunde sluit aan by die beginsels van ekologie: die samehang van dinge, vanaf die nietigste onderdeeltjie of mikro-organisme tot by die grootste sisteem en die onderlinge samehang en verhouding tussen die dele. Meintjes (1995:78) sê die volgende: “Soos die omgewing is die literêre teks ook ’n sisteem waarvan die onderdele ’n organiese geheel vorm en waarvan die totaliteit meer as die blote somtotaal van die onderdele is. […] ’n Logiese verdere toepassing van hierdie model sou wees om ’n oeuvre, ’n genre en selfs ’n hele literatuur as ’n groter ekologiese sisteem te sien”.

In aansluiting hierby verwys Fanie Olivier met betrekking tot die ekologie van die gedig daarop dat die “siening van die eenheid van die totaliteit, die samehang van die afsonderlike binne die geheel” ’n “voorveronderstelling binne die poësie” is. Hy voer verder aan: “Vir die ernstige versleser is die klank-eenheid byvoorbeeld ’n mikro-organisme, die gedig ’n ekosisteem en die bundel of die oeuvre dan die biosfeer” (Olivier 1995:134).

’n Ekologiese perspektief sou beteken om die geheel te kan waarneem in terme van die samehang van die dele. Don Elgin verwoord dit soos volg:

It means trying to see a whole which is enormous and complex – and a cosmic view so threatening of man’s image of himself – that we are tempted to retreat to our comfortable broom closets of specialized knowledge, to fragments of information re-assuring precisely because they have simplified our world to a point at which we can understand it. (Elgin 1983:8)

Verwysings

Arigo, C. s.j. Notes toward an ecopoetics: Revising the postmodern sublime and Juliana Spahr’s This connection of everyone with lungs”. how2journal, 3(2). http://www.asu.edu/pipercwcenter/how2journal/vol_3_no_2/ecopoetics/essays/arigo.html . (28 Februarie 2011 geraadpleeg).

Buell, L. 2005. The future of environmental criticism. Environmental crisis and literary imagination. Malden: Blackwell Publishing.

Donne, J. 1971. An anatomy of the world. In Smith, A.J. (red.). [1611]. John Donne: The complete English poems. Harmondsworth: Penguin Books.

Elgin, D.D. 1983. What is “literary ecology”? Humanities in the South: Newsletter of the Southern Humanities Council, 57:7–9.

Meintjes, G. 1995. Die ekologie as (vernuwende) leesstrategie. Stilet, VII(2):22–85.

Olivier, F. 1995. “hy maak die kafhok groen” – aantekeninge by T.T. Cloete as ekoloog op rym. Literator 16(3):133–44.

©Susan Smith

About Susan Smith

Poet and academic, living in the small coastal city of East London in the Eastern Cape, South Africa
This entry was posted in Artikels and tagged , , , , , , , , . Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar